Kanaal 7 Profiel
Kanaal 7 is die privaat radiostasie van Medianetwerk vir Christus.
Kanaal 7 is ‘n gemeenskapsradiostasie wat bestuur en bedryf word op Christen beginsels volgens die Bybel.
Volgens statistiek wat wêreldwyd gepubliseer word, is meer as 90% van die Namibiese bevolking Christene.
Kanaal 7 streef daarna om ‘n hoë gehalte uitsending deur professionele goedingeligte en toegewyde omroepers aan te bied.
Medianetwerk vir Christus is insake die Maatskappyewet geregistreer as ‘n Artikel 21-maatskappy sonder winsbejag (Registrasienommer: 21/82/034).
Kanaal 7 was die eerste privaat radiostasie in Namibië en het op 6 Desember 1993 begin uitsaai.
Daar bestaan geen onafhanklike luisteraarsnavorsing in Namibië nie.
Kanaal 7 saai op 35 senders landswyd uit en bereik meer as 43 dorpe en gemeenskappe.
Kanaal 7 saai in Afrikaans, Engels, Duits en Oshiwambo uit.
Daagliks tussen 05:30 en 06:00 is daar ’n Duitse program en saans tussen 18:00 en 22:00 word daar op die een Windhoek sender, Walvisbaai, Lüderitz, Oshakati en Ondangwa ’n parallelle Oshiwambo diens aangebied uit ’n spesiaal ingerigte ateljee.
Die Kanaal 7 luisteraars is hoofsaaklik 25 jaar en ouer.
Kanaal 7 se luisteraars is die mees lojale luisteraars as veral in ag geneem word dat senders deur die gemeenskappe self opgerig word. Die gemeenskap is verantwoordelik vir die insameling van die fondse wat die totale kapitale koste van ’n sender dek. Kanaal 7 is verantwoordelik vir die instandhouding en kragtoevoer na die sender.
Luisteraars val hoofsaaklik in die LSM 6 tot 10 groep.
(LSM Living Standards Measurement: LSM 1 baie laag -10 baie hoog)
Musiek bestaan uit 50% Christelike (Gospel) en 50% sekulêre musiek.
Kanaal 7 beskik oor ’n professionele nuuskantoor wat behalwe vir eie berigte, ook gebruik maak van Reuters, Sapa en andere deur Nampa sowel as Penorent‚ ’n nuusorganisasie in Suid Afrika.
Nuus bulletins word uurliks uitgesaai, met 10 lewendige oorskakelings vir verkeersnuus en inligting rondom ongelukke en noodgevalle.
’n Baie hoë premie word geplaas op die korrektheid, akkuraatheid en betroubaarheid van Kanaal 7 nuus bulletins.
Aanbiedings is so ver moontlik aktueel en relevant en moeite word gedoen om luisteraars se behoeftes te bepaal en aan te spreek.
Kanaal 7 is met verskeie gemeenskapsprojekte betrokke soos Loslitdag, Radiothon, Kusuitsendings en vele ander. Tiendes is gegee aan Quinton Steel-Botes Fonds, Crown Financial Ministries, Hope Village Trust en Shelter for Abused Women & their Children.
Kanaal 7 Media netwerk vir Christus maak gebruik van 24/7 internet stroom en is beskikbaar via die Web, slimfone soos Iphone, Blackberry en Nokia, asook Windows Mobile en android bedryfstelsels. Kanaal 7 bedien luisteraars wêreldwyd daagliks met van nuusflitse, lewendige ateljeegesprekke tot in-diepte onderhoude.
Spesiale uitsendings word deur middel van die internet en sosiale media op tieners wêreldwyd gerig. Kanaal 7 het ‘n ateljee wat vir hierdie spesifieke doel ingerig is. Skoliere van verskeie skole neem regstreeks deel aan hierdie uitsendings.
Kanaal 7 hou by sy onderneming om so ver moontlik die hele Namibië met die Kanaal 7 sein te bereik.
Visie
Missie
Die missie van Kanaal 7 is:
Kanaal 7 is ‘n betroubare, toonaangewende Christelike uitsaaidiens wat in die soeke na die Koninkryk van God die boodskap van hoop deur Jesus Christus uitdra na gelowiges en nie-gelowiges oral in die wêreld via interaktiewe media.
“Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” Matteus 6:33
Waardes
Jesus Christus is ons hoogste gesag
Nie beperk deur kerkgrense nie
Samehorige Span
Rentmeesterskap
Toegewy
Uitnemend
Integriteit
Omgee
Verklaring van Geloof & Uitsaaibeleid
VERKLARING VAN GELOOF
Kanaal 7 onderskryf die volgende Verklaring van Geloof en verbind hom daaraan vir alle uitsendings:
- Ons glo in God Drie-enig, een Wese maar drie Persone, Vader, Seun en Heilige Gees.
- Ons glo dat God, die Vader, die Skepper en Onderhouer van die heelal is.
- Ons glo dat Jesus Christus die Seun van God is, dat Hy gebore is uit die maagd Maria, gely het, gesterf het, liggaamlik uit die dood opgewek is, opgevaar het na die Hemel en tans aan die regterhand van God sit vanwaar Hy weer sal kom.
- Ons glo dat die Heilige Gees as Persoon deur Sy inwoning in ons harte, ons Heiligmaker, Leraar, Vertrooster en Voorspraak is en Sy getuies toerus met Sy Gawes.
- Ons glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is.
- Ons glo dat die mens van nature sondig is en sonder die wedergeboorte en bekering God nie sal sien nie.
- Ons glo dat God die wedergeboorte deur Sy Woord en Gees bewerk en so vir Hom ‘n Kerk op aarde versamel om Hom te dien en te eer. Die middel waardeur ons dit wat God aan ons skenk vir onsself toe-eien, is geloof in Jesus Christus as Saligmaker en Verlosser. Selfs die geloof is ‘n gawe uit Sy hand.
- Ons glo dat God ons as Sy kinders geroep het om die Evangelie aan die ganse wêreld te verkondig, onder die bekragtiging van die Heilige Gees.
- Ons glo dat God, die wat in Jesus Christus glo, die ewige lewe skenk, en dat die wat nie glo nie, die ewige verderf sal ingaan.
- Ons glo dat Jesus Christus weer sal kom om die Kerk wat Hy vir Hom voorberei het, te kom haal.
- Ons uitsendings is beide geestelik en sekulêr omdat ons glo ons is nie van die wêreld nie, maar in die wêreld en dra so ons getuienis uit sonder om lewensvreemd te wees.
UITSAAIBELEID
- Kanaal 7 bied aan leraars, ampsdraers en lidmate wat die Verklaring onderskryf, op uitnodiging die geleentheid om mee te werk aan die verkondiging van die Woord deur boodskappe, getuienisse, sang, musiek, ens..
- Kanaal 7 wil die Kerk van Jesus Christus tot diens wees en sal altyd probeer om mense hegter aan die Woord en hul kerk te bind.
- Wanneer onderhoude met persone uit kerke, aksies of organisasies gevoer word, mag die geleentheid nie misbruik word vir reklame vir of teen ‘n kerk of organisasie nie.
- In uitsendings, moet noulettend op die volgende gelet word:
- Dit moet binne die missie van Kanaal 7 val.
- Dit moet Skrifgetrou wees.
- Stellings wat gegrond is op openbaringe, drome, verskynings, gesigte en visioene sal baie sensitief hanteer word.
- Kontroversiële dogmatiese strydpunte moet vermy word.
- Die waarheid van die Evangelie moet sonder skroom gebring word en dwalings wat die basiese waarhede aantas, moet weerlê word. Afbrekende kritiek op gelowe kerke, groepe en organisasies word nie toegelaat nie.
- Woordverkondiging word gedoen slegs deur persone wat deur hulle eie kerke daartoe bevoeg erken word.
- Proselietmakery (werwing) vir enige kerk of aksie word nie toegelaat nie.
- Uitlatings wat as rassisties, seksisties of as haatspraak geinterpreteer kan word, word nie uitgesaai nie.
- Sake waaroor Christene met mekaar verskil, soos grimering, drankgebruik, duiweluitdrywing, karate, ens., moet baie sensitief hanteer word.
- Persone en aksies wat as kontroversieel beleef word, mag slegs met die skriftelike toestemming van die dagbestuur vir uitsendings gebruik word.
- Kanaal 7 behou hom die reg voor om alle programme wat uitgesaai word na goeddunke te keur en te redigeer volgens sy Beleid en Verklaring van Geloof.
- Elke aanbieder van Kanaal 7 moet die Verklaring van Geloof volkome onderskryf en hom/haar deeglik vergewis van die uitsaaibeleid.
- Die Christelike (Gospel) musiek wat gespeel word, moet aan die Verklaring van Geloof
- Die inhoud moet Skriftuurlik wees.
- Die woorde moet sover moontlik duidelik hoorbaar wees.
- Sekulêre musiek moet binne die Christelike waardes van Kanaal 7 aanvaarbaar wees en sal van tyd tot tyd deur bestuur beoordeel word.
- Kanaal 7 streef na die hoogste mate van professionaliteit ten opsigte van inhoud, aanbieding en tegniese afronding in uitsendings.
- Indien daar enige twyfel oor ‘n uitsending, aanbieder of aanbieding bestaan, besluit die Dagbestuur van die Direksie finaal daaroor
Vrae & Antwoorde
- Wat is die oorsprong van Kanaal 7:
Kanaal 7 is die radiostasie van Media vir Christus. Die eerste uitsendings van Kanaal 7 het plaasgevind op 6 Desember 1993. Die stasie is gestig om inwoners van Namibië met die Evangelie van Jesus te bereik in aanvulling van die werk van Media vir Christus.
- Wie en wat is Media vir Christus:
Media vir Christus is in 1982 gestig deur Neal van den Berg en Tokkie van Vuuren. Media vir Christus is n uitvloeisel van die werk wat gedoen is, eers onder die naam van Trans Wêreld Radio en later TWR RSA. Toe Radiokansel in Suid Afrika gestig is, was die leiding van die Here om Media vir Christus te stig. - Waarom is die Organisasie gestig:
Kanaal 7 is en kan nooit die werk van die kerk doen nie en sien homself as ʼn hulpmiddel in die hand van die kerk.
In 2014 het die direksie besluit om die naam aan te pas by die moderne neiging en die feit dat Kanaal 7 meer as Radio is. Daarom het die organisasie se naam verander na Kanaal 7 Media Netwerk vir Christus. In ʼn tyd waar die media oorheers word deur vals nuus, verdraaide beriggewing en ʼn doelbewuste afbreek van waardes, veral Bybelse beginsels en Christenskap raak die rol van Christen Media net soveel groter en groter en bly dit die enigste wyse waarop daar steeds hoop gebring word aan ʼn wêreld wat daagliks met negatiewe en afbrekende beriggewing gebombardeer word. Christen Media, en die geval Kanaal 7, moet gesien word as die hedendaagse sendelinge. Die radio is steeds die mees suksesvolle medium om die Evangelie van Jesus Christus uit te dra na plekke waar daar nie toegang is vir konvensionele sendelinge nie.
In Namibië is Radio steeds die mees toeganklike medium en word die bevolking steeds grotendeels deur radio bedien. Dis belangrik om te verstaan dat die Kanaal 7 model in lyn is met die internasionale benadering binne Christen media. In sy boek, “Powerful Christian Radio” bevestig Josh Reid hierdie model ook in die Australiese konteks.
Hy skryf; “ In sy kern is Christen Radio ʼn strategiese, kragtige en invloedryke bediening wat deur middel van verskeie media platforms met etlike duisende mense kommunikeer in plekke waar geen kerk ooit kan ryk nie. Die huidige Christen Radio saai ʼn mengsel van Christen en sekulêre musiek en inhoud uit wat beslis aantreklik is vir ʼn wyer gehoor met musiek en inhoud waarmee hulle steeds identifiseer terwyl die Evangeliese fokus nooit verloor word nie.”
- Die doel van MvC/Kanaal 7 is om die Evangelie van Jesus Christus deur die moderne media te verkondig. Daar is ʼn duidelike behoefte aan ʼn media organisasie wat vanuit ʼn Christen perspektief die hele behoefte van die luisteraars kan aanspreek.