Kanaal 7 Nuus
Die gebrek aan ‘n kontant-inspuiting deur die Ministerie van Stedelike en landelike Ontwikkeling aan die Okakarara-Dorpsraad kortwiek ontwikkeling op die dorp. Die Burgemeester, Olga Katukundu-Tjiurute, sê dit is ook die rede waarom die raad nie sy ontwikkelingsdoelwitte optimaal kon verwesenlik nie. Sy sê die lynministerie het nie die Dorpsraad met fondse ondersteun om sy kapitaal-projekte oor die laaste drie jaar te voltooi nie. Dit frustreer inwoners en het tot betogings aanleiding gegee. Die Raad het tussen 30- en 40-miljoen dollar nodig vir basiese dienste soos paaie en huise in sewe informele nedersettings asook die nuwe residensiële uitbreiding. 43 miljoen dollar se eiendomsbelasting en diensgelde is nog uitstaande. Dít terwyl die raad Namwater nege miljoen dollar skuld.
Santam Namibia het 100-duisend dollar aan Droogte Verligting Namibië geskenk om teen die Sprinkaanplaag aan te wend wat die suide van die land sedert middel-Desember teister. 719-duisend hektaar weiding en eenduisend 207 hektaar gesaaides is sedertdien deur Sprinkane in 10 van die land se 14 streke verwoes met die //Karasstreek wat die ergste geraak is. Santam se hoof-Uitvoerende Beampte, Franco Feris, sê die fondse sal deur die Ministerie van landbou aangewend word vir die aankoop van brandstof vir bespuitingsvoertuie asook die salarisse vir diegene wat die bespuiting doen. Santam benadruk dat die skenking gesien moet word as die privaatsektor wat aan lede van die Santam Namibia Familie waarbinne hy funksioneer, teruggee om die impak van rampe op die gemeenskap te versag.
Die nuwe Franse Premier, Elisabeth Borne – die eerste vrou in dié amp in meer as dertig jaar – het die hoop uitgespreek dat sy dogters sal kan inspireer. Sy het in haar inhuldigings-boodskap gesê sy wil haar nominasie aan jong dogters opdra en hul aanmoedig om hul ten volle op die verwesenliking van hul toekomsdrome toe te spits. Die 61-jarige Ingenieur is vroeër bestempel as ‘n linker-vleuel tegnokraat. Sy het sedert onlangs as minister van Arbeid onder President Emmanuel Macron gedien. Frankryk se volgende algemene verkiesing vind in Junie plaas.
En Motorsport: Sebastian Vettel gaan moontlik Formule 1-wedrenne vaarwel toeroep. Die vierdubbele wêreldkampioen het ná die Miami Grand Prix op die BBC se paneelprogram, “Question Time” gesê hy vra homself elke dag of wedrenne iets is wat steeds moet plaasvind. Daar is ander vrae oor Vettel se toekoms in Formule 1 en Aston Martin het erken die 34-jarige Vettel nog oortuig moet word om in 2023 deel te neem. Die voormalige F1-renjaer, Marc Surer, sê al die tekens dui daarop dat Vettel gaan uittree.
Kanaal Sewe Nuus, Namibië en die wêreld op hierdie oomblik, vertrou steeds op God, hou aan bid en leef gesond.